spore voetslaanklub
Registreer |Teken in |Oor ons |Missie |Kontak Ons
 Tuis  Nuwe Toere  Roete Verslae  Fotos  Beginners Gids  Kampvuur Stories  Nuttige Skakels  GPS Koördinate Spore is 'n lid van.. HOSA/VOSA
Die oggendstond het goud in die mond

Dis swaar om die jongste stapper te wees in die skool se stapklub. Poetse word veral op JOU gebak ten koste van JOU. Maar daar was maniere om die boosdoeners te keer, somtyds kry jy maar effektiewe maniere.

Dit was dag 3 van die Giants Cup staptoer. Die magtige Eagle's Nest piek het voorgelê. Ek en Martin het besluit om die volgende oggend vroeg suutjies op te staan, die res van die groep agter te los en die kamp en warm water eerste te bereik. 5 uur het ons stilletjies opgestaan, koffie gemaak, sakke gepak en ons toerleier meegedeel (ek dink hy was nog aan die slaap) dat ons die pad gaan vat. Dit was mistig en koel gewees, en omdat mens nie veel kon sien nie, het ons geloop soos masjiene. Soveel so, dat teen 8:30 het ons die volgende kamp bereik! Die mense wat nog daar geslaap het, het toe net opgestaan. Toe ons hulle vertel wie ons is, kon hulle ons nie glo nie. Toe deel ons maar nog 'n koppie koffie, saam met hulle. Min het ons geweet ons vriendinne wie ons geselskap gehou het, het van ons planne te hore gekom en die uitsig van warm water het hulle ook opgewonde gemaak. Hulle is toe nie lank na ons ook pad gewees. Die vooruitsig van warm water moes hulle aangespoor het om ook blitsvinnig te stap. Ons het die beste kamer gehad, die enigste een met 'n deur. Teen tienuur het ons viertjies baie tyd nog op hande gehad.

Ek kry toe die briljante idee om die kaart te bestudeer. Nie ver van ons basiskamp af, was daar 'n grot met die naam “Crystal cave”. Dis net 3 km weg, en die pad volg 'n stroompie. Ons besluit toe dadelik om te gaan. Ons pak toe ons proviand en val in die pad. Wat ons nie verwag het nie, was dat die oggend se mis die grond sag en glibberig gemaak het. Die tog boontoe was 'n stryd, en ons het telkemale geval. Ons het self op 'n punt hande viervoet opgekruip. Drie Ure later staan ons binne Crystal cave. Die uitsig was wonderlik, die water amper soet so koud en skoon was dit. Ons het seker maklik twee ure daar gespandeer. Toe vir die terug tog, dit was 'n halfuur af ondertoe. By die kamp aangekom ontmoet ons die agterosse (die toerleier en geselskap) wat toe net by die kamp aankom. Vreemd genoeg was die boosdoener-bende (die seniors) nie daar nie, alhoewel hulle sakke daar was.

Dit het donker begin word en na die kuier om die kampvuur het ons gaan slaap, maar met die boosdoeners nog op soek, kon ons nie slaap nie. Ons het 'n kers aangesteek om die laaste van die gas in die kamplampie te spaar terwyl ons gesels. Ek het my stapstok gevat, en dit onder die deur se handvatsel ingedruk, sodat mens nie die deur kon oopmaak nie… ... of so het ek gedink. Net voor elf uur die aand stamp iemand aan die deur. By die tweede stamp trek my stapstok (nou in stukke) deur die lig. Mnr. Schwab kom ingestap, die toerleier. Hy kyk links en vat die kers van die kampstovie af weg, en sê : "Weet julle waar is die Hotel?".
Martin sê sommer vinnig
"Ja, verseker!".
"OK, kry julle buite in vyf minute" se Mnr. Scwhab en stap uit.
"Waar is die hotel" vra ek Martin.
"Geen idee nie" sê hy.

'n Vinnige kyk op die kaart, wys ons waar Drakensberg Gardens Hotel is, af in die pad. Ons gryp ons flitse en ontmoet die toerleier voor by die hut. Gelukkig vir ons was daar 'n teerpad wat ons kon volg. Toe hoor ons naderende stemme. Die stemme sing. Terwyl ons stap gis ons oor die getal mense, tien, vyftien. Dan uit die donkerte stammel hulle. Twee basoetoes, dronk soos torre en hulle sing uit volle bors. "Waar's die hotel?"
"Strait" wys hulle in die rigting waar ons stap.
Ten minste weet hulle waar die hotel is! Die hotel het twee kroeë. Ongelukkig mag ons nie ingegaan het nie. En wag toe buite. Terwyl ons oppad was na die tweede kroeg, kom die groepie uit die hotel se voorportaal uit...smoor dronk.Maar toe hulle Mnr. Schwab sien word hulle nugter. "Julle het 5 min om by die hut te kom" se hy in 'n gematigde ferm stemtoon. Dit het ons 25 min gevat om by die hotel te kom. Ek is seker hulle het dit in 5 min gedoen so bang was hulle. Die volgende oggend maak Mnr. Schwab hulle wakker om sesuur. Van hulle was nie eers nugter nie. Ek onthou duidelik een van die stappers met sy onderbroek in die hand op die laaste stukkie klipperige afdraand na die eindpunt. Die rit terug was jolig...vir ons! Die boosdoeners was stil.