spore voetslaanklub
Registreer |Teken in |Oor ons |Missie |Kontak Ons
 Tuis  Nuwe Toere  Roete Verslae  Fotos  Beginners Gids  Kampvuur Stories  Nuttige Skakels  GPS Koördinate Spore is 'n lid van.. HOSA/VOSA
Die Ontploffing

Ek was op my eerste staptoer. Holkrans naby Newcastle. Soos menigte eerstemaal stapper het ek hopeloos te veel lekkergoed, en te min kos ingepak. Maar ons het nie omgegee nie. Ons was 16, met rugsakke vol kamp toerusting, en gereed om die wêreld aan te vat. Soos menigte skool stap groepe was daar baie tipes persoonlikhede. Die wat baie praat, die wat min praat. Die wat avontuur soek, die wat avontuur gekry het. Dan is daar die wat wil kwaadstook. Ek was die avontuursoeker! Die oornag punt was in die holte van 'n hol krans (vandaar die naam). Die hol krans se vloer was mooi opgemaak met terrasse. Die hoogste terras was net net onder die krans uit en ook die verste van almal weg. Hier het drie kwaadstokers gaan slaapsak uitrol. Meer oor hulle later…

Die watervoorsiening was via 'n water stroompie wat in 'n asdrom geval het teen die verbysterende spoed van 1 eetlepel per minuut. Aan die begin van sononder het een van die divas in die groep besluit daar is maar net geen kans dat sy water gaan skep om te bad nie, en klim toe met haar baaikostuum en al in die drom en bad. Dit was totdat ons toerleier Mnr. Schawb op haar afgekom het…Die res van die aand moes ons na 'n stroompie so 150 m vallei af loop om water in waterbottels te skep. Gelukkig kon ons daar bad.

Met al die water-gaan-haalery het ons geen kans gehad om deel te neem aan die feestelikhede om die kampvuur nie. So toe almal begin inkruip het ons maar dieselfde gedoen. Maar Martin was vasbeslote om marshmallows te braai. Hy pluk toe sy gasstofie uit, maak 'n blik kondensmelk oop en braai toe só sy marshmallows en doop dit in die blik kondensmelk…alles vanuit sy slaapsak. Hy was die meester!

Terwyl ek smul aan my kondensmallow sien ek die dowwe gespring van skaduwees teen die kransmuur, onmiskenbaar die van 'n vuurtjie. Die kwaad-doeners het 'n vuur gemaak. Maar die slaapsak was te warm om nou uit te klim en die vuur te gaan deel (en dalk die marsmallows). Die volgende oomblik is daar 'n harde knal soos 'n haelgeweer, almal spring regop, die voëls vlieg uit die bome uit en Martin lig amper 'n wenkbrou. Die dans van die vlamme het die kransmuur verlaat, en is vervang deur donkerte en tastende flitsligte. Ons haas ons na die bo-punt van die kransholte waar die kwaaddoeners skuil. Die kransmure drup van kondensmelk wat drup op deurmekaar kwaaddoeners. Een oogopslag was genoeg om te weet wat gebeur het.

Die drie het verder van die groep af sakke uitgerol, en toe dit donker word klippe gaan soek om 'n vuur te bou. Die vuur was om die kondensmelk te kook. Die kook was goed aan die gang, maar hulle het vergeet om 'n gaatjie te los om die druk te verlig. En hulle het leiklippe gebruik, want dis dan so lekker plat. Toe die kondensmelk bars toe besluit die leiklip om saam in te val. Hulle het nie weer gaan saamstap nie.