spore voetslaanklub
Registreer |Teken in |Oor ons |Missie |Kontak Ons
 Tuis  Nuwe Toere  Roete Verslae  Fotos  Beginners Gids  Kampvuur Stories  Nuttige Skakels  GPS Koördinate Spore is 'n lid van.. HOSA/VOSA
Cathedral Peak Staproete

Cathedral Peak Staproete

1 April 2010
"Kamp julle maar daar by die toilette waar julle nie die ander sal wakker maak as julle vroeg opstaan nie."
'n Brawe groepie mense kom drupsgewys by die kampeerterrein in Bergville aan. Môre-oggend is dit vroeg opstaan, maar daar word eers vleis gebraai en gekuier. Die reën wat neerstuif voorspel niks goeds nie.
Braai

2 April 2010
"Jy sê jy het hierdie roete al vantevore gestap"
In die donker oggendure pak ons op en vertrek na die Cathedral Peak area van die Ukahlamba Drakensberg Park. Die afstand wat ons vandag moet aflê is +\-10 km, so ons kan nie regtig bekostig om na 07:30 te begin stap nie. Wat? Julle sal sien...
Na 'n bietjie van 'n opondhoud by die Didima-kamp - hoofsaaklik omdat ons voor hulle personeel op diens was - kan ons die bergreddingsregister invul en slegs een van die nege stappers in die groep word aangedui as onervare. Dit gaan drasties verander in die volgende drie dae. Teen 5 April sal sy DV deel vorm van 'n "elite korps" wat met die draak kon speel en dit oorleef ;-)
Die dag begin met 'n rustige stap langs 'n stroompie. Dis 'n mooi dog bedompige oggend. Die eerste twee kilometer vlieg in 'n halfuur verby en miskien is daar een of twee van ons wat wonder hoekom ons dan so vroeg moes begin.
Die eerste aanduiding van wat voorlê kom wanneer ons die pad tydelik byster raak , maar Jan-Harm en Arnold kry ons gou weer op koers na 'n bietjie "bundu bashing". Na 'n steil klim sien ons die pragtigste waterval, sit onder die laaste paar bome en eet ietsie.
Dis nog vroeg-oggend, maar die wolke is besig om die berg te verskyn en dit sal die laaste keer wees wat ons vandag sal kan sit en iets eet.
Van hier af begin een van die mees uitmergelinde klimme wat jy ooit op 'n staproete sal doen. Die spierdartelinde gedeeltes word dan-en-wan afgewissel met 'n verfrissende middelmatige klim. Die roete wat ons volg is via die Camel-pieke na Organ Pipes pas.
Die mis begin toemaak boo ns en die platorand verdwyn en ons klim en ons klim. Teen hierdie tyd vorder ons met tye teen minder as 1km per uur. Die huisraad en tent op jou rug maak dit natuurlik nie makliker nie. Wanneer die mis vir 'n oomblik oopmaak sien ons 'n rotsmuur voor ons Ons is op 2700m steeds 300m onder ons slaapplek en dit lyk of ons gaan moet rotsklim om daar uit te kom.
Braai
Dan verskyn daar aan die linkerkant 'n smal skeurtjie in die rots en Jan-Harm beduie dat as ons klaar daardeur gesukkel het, ons 'n pad na bo sal sien. So is dit dan ook. Net na die skeur sien ons Organ Pipes pas, maar die verligting is van korte duur. Die laaste 250m klim word in minder as 'n kilometer afgelê en vir moë bene is dit moontlik die ergste van die dag.
Braai
Op hierdie hoogte (3000m) begin 'n mens ook agterkom dat een asemteug jou nie meer so vêr bring soos onder in die vallei nie. Nog 'n kilometer en net voor donker is ons by ons oornagplek, slaan tente op in 'n misreëntjie en verdwyn vir 'n nag van soete rus.
Braai

3 April 2010
"Which way is best to ascend Cleft Peak?"
Met 'n koffie in die hand en 'n yskoue wind wat waai is die uitsig vanaf die platorand met die son wat oor die see opkom, vir party 'n meer merkwaardige ervaring as vir ander.
Braai
Ons is nog aan die oppak toe verskyn ons vier Engelse comrades van agter die bult. Hulle het in 'n grot êrens geslaap en is oppad na dieselfde plek as ons - Twins grot - omtrent 14 km in 'n amper noordelike rigting langs die platorand.
'n Makilke stap lê dus voor - 'n plato is mos plat. Moenie glo nie. Ons is nou op omtrent 3000m bo seevlak en voor ons lê een van die grootste uitdagings op die roete - die bestyging van Cleft Peak - 3285m bo seevlak.
Ons bestyg Cleft Peak teen die platorand op. Die klim is steil en hier is geen paadjies om te volg nie. Elkeen loop teen sy eie pas en eie roete tot bo.
Braai
Ons Engelse vriende bly omtrent die hele dag in sig. Min weet ons dat ons "Engelse vriende" en "sig" 'n sleutel sou word tot die volgende dag se stap.
Na 'n vinnige was in 'n yskoue rivier, vind ons die bopunt van Mlambonja-pas wat ons vir 'n entjie volg en dan links uitswaai na Twins grot. Net toe ons begin dink dat ons die hele Twins vir onsself gaan hê, verskyn 'n groep moë stappers uit die donker en 'n paar bekende gesigte nogal. Fransien se buurman is onder hulle.
Braai

4 April 2010
"Jou sak!"
'n Gedeelte van die berge wat ons toerleier Jan-Harm nog nie gestap het nie lê voor. Dit begin met 'n heerlike rustige stap in een van die mooiste dele van die Cathedral Peak reeks. Die "Bell traverse" word op die kaart aangedui as gevaarlik - "ropes may be required".
Ja, ons haal die tou uit op een plek, maar die rotslys is droog en baie minder van 'n uitdaging as die eerste dag se tou-episode.
Braai
Met 'n pragtige uitsig op die "Bell" en die "Cathedral" begin ons die eerste miswolke opmerk - 'n slegter teken as wat ons besef. Met die eerste werklike digte mis, bevind ons onsself op 'n kritiese punt van die roete. Ons raak die pad byster en nie die kaart of die GPS of die klipstapels maak enige sin nie.
Braai
Soos wat die mis vir 'n oomblik lig, gooi Jan-Harm sy sak teen die steil helling neer en hardloop ondertoe om te kyk of hy die pad kan sien en hier kom die rugsak verby gerol en verdwyn 'n paar honderd meter verder oor die laaste krans. Twee-rigting radio, klimtou, klere, tent, kos, kookgerei, en stink kouse af met die berg. Drie brawe Fear Factor manne kry die tent, waterbottel en stink kouse terug.
Ons drie Engelse vriende kom net betyds om ons te help op die regte pad, maar hulle was aanvanklik net so verlore soos ons. Die sigafstand is nou nie meer as 10 meter nie. Na nog 'n aaklige rotslys kom die gevreesde "Bugger's Gully" en vrees is presies wat ons oorval.
Na al die trauma van die dag, nadat ons nie lank tevore gesien het hoe dit lyk as 'n redelike gewig teen die berg rol, is hierdie erosie-sloot teen 'n helling wat die massiewe los klippe soos koekies seep oor die los grond laat afgly.
Braai
Met slegs een besering en baie hulp van die sterk manne is almal en hul sakke bo en kan die afdraand aan die ander kant aangepak word. Dit is besig om donker te word en die weer lyk sleg. Dit is duidelik dat ons dit nie gaan maak tot by die grot waar ons gehoop het om uit te kom nie.
Ons vind egter 'n plat plek bo-op een van die voetheuwels se pieke. Dankbaar dat ons nog al die tente tussen ons het, spring ons aan die werk om net betyds die tente op te hê, teen die tyd dat dit begin reën. Die kosmaak proses met reën is maar moeilik , maar met hael en blitse rondom jou, is jy regtig uitgelewer aan die elemente.
Braai
Ons oorleef 'n dramatiese dag en hoop vir sonskyn die volgende dag.
Braai

5 April 2010
"Daar wag nog een verassing onder in die vallei!"
Ons begin stap in die reën en die weer lyk mistroostig. Die mis kom en gaan en ons het min tyd om die mooi plantegroei van "Orange Peel Gap" te waardeer.
Braai
Die riviere is in vloed van die vorige nag se reën en die hele platorand glinster met watervalle wat die vorige dae nie daar was nie.
Ons stap by Sherman's grot verby waar ons die vorige aand veronsderstel was om te slaap.
Braai
Vandaar is dit nog 'n redelike steil afdraand tot by die laaste uitdaging - Mlambonja rivier in vloed. Weereens maak ons Engelse vriende dit vir ons 'n bietjie makliker deur hand te vat en te wys hoe om oor een van die sytakke te kom. Ons doen dieselfde en vind ons pad terug na die karre via die hangbrug by die hotel se gholfbaan.

Ter Afsluiting


'n Stap in die Drakensberg is nooit sonder insident nie en hierdie een was geen uitsondering nie.

Fotos