spore voetslaanklub
Registreer |Teken in |Oor ons |Missie |Kontak Ons
 Tuis  Nuwe Toere  Roete Verslae  Fotos  Beginners Gids  Kampvuur Stories  Nuttige Skakels  GPS Koördinate Spore is 'n lid van.. HOSA/VOSA
Visrivier

Visrivier - deur mama beer...

Nou ja toe. Amper 'n jaar nadat ons dit gestap het, is die storie gereed. Wat meer kan ek se as, lees en geniet!


Dit het alles baie onskuldig begin met 'n vraag.
"So wanneer gaan ons die Visrivier stap?"
"Volgende jaar!" het ek gesê.
Dadelik het ek begin met die besprekings. Min het ek geweet dat daardie jaar een van die droogste jare sou wees, ook dat ek twee operasies sou moes ondergaan vir 'n mantel vlies breek. Uiteindelik is die datum toe geskuif na Mei 2008. Baie mense het aangesluit en ons was amper 'n volle 20 mense. Maar nie lank nie of meeste besluit daarteen. Werksdruk en gesondheid was van die grootste redes...maar ons almal weet rêrig hoekom. En toe was daar nege.
Net om die besprekings nog meer te bemoeilik vind ons uit dat Ai Ais toegemaak is vir reperasies. Hobas die enigste ander kamp is nie so goed toegerus nie. Na maande van oproepe (ek dink die mense in Kaapstad kantoor vlug as hulle my nommer sien) is daar toe uiteindelik vervoer, kamp en restaurant plek gereël.
Ons was gereed vir alles...of so het ons gedink.

4 Mei 2008.


Dis 4 uur Sondagoggend. Orals loop zombies rond (wat eintlik maar my vrou Ansie en Francois is ) en pak die laaste paar goedjies in die waentjie en kattebak. Die strate is stil en daar is min karre op die pad. Ons is sommer vinnig by Frans se huis, waar ons Esme en Jan-Harm ook kry. Daar is nie baie tyd om te dink nie, en ons val sommer vroeg in die pad. Blykbaar is die pad verby Ventersdorp baie sleg, en ons besluit om eerder Klerksdorp om te ry. Die hongerpyne kry die beste van ons en ons stop by Wimpie in Klerksdorp vir 'n boeretroos en ontbyt. Na die eerste koffie raak die tonge los en in ware spoorie tradisie is ons sommer gou al ou pelle! Spoories of te nie, die pad na Die Eiland by Upington gaan homself nie ry nie , en ons val almal ywerig in die pad. Die tweerigting radio? verskaf vir 'n kort rukkie plesier, todat die landskap oorneem. Die pad na Upington is geweldig mooi, die grasvlaktes wat stelselmatig verander na semi woestyn. Een ding wat my verbaas is die rusplekke langs die pad, wat in my kleintyd gebruik is om die tafeldoek oor te gooi en ouma se frikkadelle en gekookte eiers op te dis, was die meeste daarvan in redelike goeie toestand...wel volgens SA standaarde . Terwyl die son sy draai maak bo ons, en die Eagles singende vra "How long How long...." maak ons goeie tyd op en arriveer net voor sononder by Die Eiland. Ons moes hier gekamp het, maar die vriendelike tannie by die ingang het vir ons twee oop "huisies". So die tyd wat ons sou spandeer om tente op te slaan gebruik ons om bier te drink.Later die aand verkas ons na die Spur toe vir aandete en nog meer bier. Die huisies by die eiland is nie mooi nie, maar wel funksioneel. By hierdie en die latere gastehuis is daar 'n dubbelbed en 'n enkelbed? ? ? Het meeste gesinne nie meer twee kinders nie? Daar is ook in elke kamer DSTV, duidelik is daar nie baie om te doen in die Noord Kaap behalwe bier drink en DSTV kyk nie.

5 Mei 2008.



Ek ontwaak die oggend maak koffie vir almal en staan en neem die koel oggendlug in. Dis warm hier...maar dis net so koud hier! Nadat ons almal die motors gepak het (minus zombies) ry ons na die Wimpy vir koffie en ontbyt. Oppad na die Wimpy kry ons bedelaars wat in Afrikaans vir alles vra van brood tot 'n slukkie melk. Dis Maandag en die dorp se top besigheids mense is in die vergaderplek om besigheid te doen...baie cosmopolitan. Oppad terug karre toe begin Priester Shuffle* gesels met die bedelaar en vertel hom breedvoerig hoekom ons hom nie gaan help nie...en kry hom toe jammer en gee hom tog iets (was dit oordat hy moes luister?). Nadat almal brandstof ingegooi het (toe dit nog onder R10 'n liter was) verkas ons vir Nakop grenspos. Die een ding van die Noord Kaap wat jy moet weet, is die paaie is reguit...baie reguit.Jy kan maklik 100km ry sonder om een keer te draai.Langs die pad het die vinke die telefoonpale gebruik om hulle nes om te bou. En hoe verder mens ry hoe meer neste is daar. Ons steek 'n hele klomp mense in karevane verby wat ook oppad grenspos toe is.By die grenspos gaan dinge sommer vinnig. Die mense is vriendelik, die terrein mooi. Ek was besonder bekommered oor "Die inspeksie". Ek was glad nie lus om die waentjie uit te pak nie. Net toe arriveer die konvooi karevane. En hulle arriveer, en arriveer en hou aan arriveer. Die ou wat die inspeksie doen kap skielik 'n paniek, en sê vir die twee X-Trails hulle moet maar net ry. En daar gaat ons. By Ariamsvlei gaan dinge net so spoedig. Dit lyk nou wel nie so mooi nie, maar hulle is net so effektief. Net op daai punt daag 'n bus vol ou ooms en tannies op vir 'n toer na Namibie...en hulle staan toue om gehelp te word. Terwyl ek daar wag hoor ek hoe die busbestuurder nie die regte lisensie het om daar te "werk" nie. Dit kan nie goed wees nie! Gelukkig word ons almal gou gehelp, en ons is sommer vinnig weer oppad. 'n Vinnige stop in die dorp vir koeldrank (en vir sommiges aandete) en ons is weer oppad. Ek het net die outomatiese spoedbeheer gestel, toe ons skielik oor sulke hobbeltjies ry. Nie groot nie, soos 'n groterige klip amper. Koringkrieke! Hulle is so groot soos paddas, en maak sulke snaakse geluide. Die aardigheid is afgeneem, en toe vertek ons verder. By Grunau stop ons vir brandstof, die laaste plek waar ons kan ingooi. Daar kry ek die regte tyd by 'n vriendelike oom, voordat ons die stofpaaie aandurf. Die grondpad na Hobbas is nie naastenby so sleg soos wat mens sou dink nie. Omdat hulle so baie gery word, is dit soos om op teer te ry. Plus, die wind waai liggies dwars oor die pad, so die stof van die voorste kar waai netjies weg. Ons ry verby Canon roadhouse (die bekende een met die kaktus wat uit die kar se enjin groei). Daar is selfs nog bietjie wildlewe hier, in die vorm van 'n bokkie.
Ons arriveer op tyd by Hobbas. Vir een of ander rede, is hier twee kantore. Een waar jy moet inskryf vir die park, en een vir die kampterrein.Moenie vra nie, ek weet ook nie. Ons kies 'n oulike plekkie onder die bome en begin die tente opslaan. Nie lank nie, of die res van ons groepie sluit by ons aan. Lood, Lourens en Sam. Nou is ons voltallig! Ons sit lekker en gesels oor middagete by die impromptu restaurant. 'n Groepie mense daag toe op in 'n oop Landrover. Hulle is die eerste mense van die seisoen wat net klaargemaak het. Hulle sê hulle het die rivier 27 keer oorgesteek. Ons lag later lekker vir hulle...min weet ons. Ons kok vir die toer, Lourens, deel die kos in sulke oulik gemerkte pakkies uit. Later braai ons en drink 'n koffie. Ons is almal opgewonde, maar die moegheid van ver ry haal ons in, en ons gaan klim almal in vir die nag. Iewers deur die nag sit hulle die kragopwekker af en dit word rerig stil, en donker. So donker dat die sterre se lig amper steurend is.

6 Mei 2008


Ons ontwaak almal redelik vroeg, en begin solank stort, en regmaak. Die koffie ketel kook al lekker, en almal geniet wat dalk die laaste koffie met melk kan wees vir 'n ruk. Oggendete is laasnag se braaivleis. Die tente word afgeslaan en gebere, die motors geparkeer net oorkant die kantoor. Daar is 'n paar laaste vorms wat moet ingevul word. Een van die dinge wat ons besluit het, was dat die R150 rand van Ai-Ais na Hobbas 'n bietjie streng is. Daarom om kostes te bespaar, het ons besluit dat op die laaste dag, sal net 2 mense terugry, en dan die motors gebruik om ons te kom haal. Dit vat bietjie verduidelik aan die personeel, wat nie gewoond is dat mense so werk nie. Nog verdere probleme by die ander kantoor was dat die wag daar eers wil hê ons moet betaal vir die dae wat ons in die park gaan wees. Nog meer verduideliking is nodig om hom te laat verstaan dat ek alreeds vir almal betaal het. Uiteindelik is ons almal reg, en ons vertrek uiteindelik na die beginpunt. Ons gesels met die drywer, Veri Khumba, wat ons alles vertel van die park, en die roete. Ons arriveer en by die beginpunt na 'n winderige rit op die Landrover. Die uitsig van bo af is asemrowend! Foto? is nie genoeg om te verduidelik hoe dit lyk nie. Dis groot. Groter as wat jy dink. Ek ontdek skielik dat my medisyne nie in my sak se kantsakkie is nie. Terug op die Landrover en daar gaat ons weer na Hobbas toe. Toe ek weer by die beginpunt kom, kan ek sien hoe my mede stappers onnatuurlik geduldig vir my gewag het...hulle gaan my beslis terugkry. Nou dat almal daar is, begin ons 08:30 stap.
Die eerste deel van die roete is 'n baie steil afklim. Daar is handrelings met kettings op plekke, maar ek sal dit net in 'n noodgeval wil gebruik. Die paadtjie is glad nie onduidelik nie, en weldra raak die steilte bietjie minder. Veri stap saam met ons vir so kort entjie om seker te maak ons val onself nie disnis nie. Die vroeë oggendson gooi lekker skadu? waar ons stap, maar gou slaan ons die son. Dis warm, en die klip banke waar ons verby loop help nie. Die pad ondertoe is baie eenvoudig, en volg maar net 'n ravine. Ons is so net na 10:00 onder by die rivier. Dis alreeds warm, maar dit stop ons nie om bietjie te swem nie. Omtrent 13:00 begin ons weer stap. Die keer is dit BAIE warm. Mense praat skielik nie meer nie, en die sand is aaklig. Soos jy stap sink jou voete weg. Net toe die sand erg begin raak, toe kry ons die klippe. Die klippe is sulke groot rotse wat mens moet oorklouter. Skielik breek Lood agter my uit met 'n liedtjie: (op die wysie van Shosolosa) "DIEEEEEEE HIDRASIE"
en almal val in ager hom aan
"DIHIDRASIE..."
Ek besluit toe maar dat ons dalk moet koelte soek. Aan die oorkant van die rivier sien ek die hele wal is in skaduwee, en daar is 'n maklike oorgangplek. Ons mik vir dit, en almal is bly om daar te kom. Ons vertoef maar vir nog so 1.5 uur daar. Toe dit begin lyk of die hitte minder raak, toe "kit" ons op, en stap verder, nou aan die oorkantste wal. Ons kry 'n oulike plekkie met 'n hoë sandwal. Ons is seker nie eers 2 kilometer van die plek waar ons eerste die rivier gesien het nie. Slaapsakke word uitgerol, mense begin swem. Dis stil en mooi. Die son verf die lug 'n anderste pienk terwyl hy sak. Die donkerte oorval jou skielik in hierdie geweste. Dis asof die son kloeps skielik sak.Aandete is gisteraand se oorskiet braaivleis en pap. Gevolg deur 'n lekker koppie koffie. Net na aandete duik die eerste probleem op, Sam se Hi Tech canvas skoene se sole begin lostrek. Gelukkig het ons tussen almal die nodige gereedskap. Draad, Leatherman en 'n mini blaasvlam. Lourens wys sy vernuftigheid as 'n skoenmaker, en die skoen word gered (of so het ons gedink). Soos dit maar gaan op die roetes, as dit donker word, dan slaap almal vroeg. Ons lê toe maar in ons slaapsakke en praat nonsens. Frans lewer toe kommentaar: "Hoe meer jy kyk, hoe meer word die sterre"...

7 Mei 2008


My horlosie maak my wakker. Ek is eers verward, want dis dan 06:00 maar nog stikdonker. Ek sien toe dat die son alreeds opgekom het, maar dat die Canyon in donkerte gehul is. Almal begin stadigaan opstaan en gereed maak om te stap. Ons "kit" op en begin net na 07:00 te stap. Ons bly toe maar aan die oorkantste (regterkantste ) wal. Wat 'n fout was dit net nie. Bitter gou is ek spyt oor my besluit, want aan die kant is die kranse amper loodreg en die rotswande glibberig. Daar is ook geen oorgaan plek nie. Ons sukkel sukkel voort, om die draai is daar oorgaan plek, wat ons onmiddelik van gebruik maak. Dit lyk nie veel beter nie, maar daar is darem 'n paadtjie. Maar aan die oorkant waar ons nounet was lyk dit weer beter. Ons gaan weer oor die rivier 'n entjie verder. Ek moet verduidelik hoe die rivier oorsteek protokol werk. 1. Eers sit jy jou sak neer.
2. Dan val jy om want jy het nog heeltyd voorentoe gebeur met jou sak op
3. Dan trek jy jou "boots" uit,sokkies en onder sokkies. Sit dit in 'n sak.
4. Dan trek jy jou crocs/waterskoene/rockies aan
5. Sak oppie rug, paal in die hand begin jy dan oorsteek.
6. Omdat die water bruin is van die sand, kan jy nie sien waar jy trap nie. So vordering is stadig (en tone word gereeld teen 'n klip gestam).
7. Terug aan die ander kant, is die crocs/waterskoene/rockies uit, ondersokkies,sokkies en dan "bootse" aan. Dan sak oppie rug.
Dit vat tyd.
So gaan dit die heeldag , eers een kant van die rivier, dan die ander. Elke oorsteek vat tyd. Dit begin lyk of die linkerkant van die rivier die beste plek is om die eerste twee dae te bly. Ons mikpunt is die swawel fontein. En ek druk hard dat ons daar kom. Almal is moeg, maar die vordering is stadig. Ons loop totdat die laaste stukkie lig uiteindelik moed opgegee het en weggaan. Ons is nog 'n kilometer van die swawelfontein af, en ons moet die rivier twee keer oorsteek om daar te kom. Ons stop toe maar net daar en kamp uit. Dis gou donker. Ons gaan soek rond en kry 'n hele paar droeë takke, wat ons toe gebruik om 'n lekker "bonfire" mee te maak. Lourens dis vir ons 'n wonderlike aandete van smash en mince op. En toe gebeur dit. Ek loop mos lekker kaalvoet rond want daar is lekker sagte sand, en stamp my toon en 'n deel van my voet stukkend op 'n klip! Dit word gedokter, maar dis nogsteeds seer. My sole is nie die enigste wat deurloop nie, en die Hitec van Sam moet weer gedokter word. Die span is al gereed soos 'n formule een span en dis gou weer gereed om aan te gaan. Ons gaan slaap maar later, kloppende seer voet en al.

8 Mei 2008


Die volgende oggend begin ons vroër. Dis donker maar ons gebruik koplampe om in en op te pak. Toe die son se eerste strale die canyon verlig is die spoories dapper gereed om te begin. Ons sal ontbyt by die swawelbron eet. Vandag gaan ons tyd opmaak. Maar helaas, nog voor ons die anderkant van die rivier haal, val ek ...twee keer, en beseer my knie en rug. Vandag gaan tough wees. Die vordering is stadig. Ons kruis telkemale die rivier net om gefnuik te word om die draai waar jy nie kan stap nie, en dan die rivier moet kruis. Skielik sien on groen palms en bome. Ons haal die swawelbron binne 'n uur. Almal pak uit en begin koffie maak. Ek is baie stil. My voet klop van die pyn en dis moeilik om joviaal te wees. Ons begin weer stap na ontbyt. Mense is redelik stil, die realiteit van wat ons doen haal ons in. Vir die eerste keer sien ons van die "oop" paaie. Dis basies harde grond binne die draai van die rivier, wat 'n seëning is na die klippe en sagte grond. Loodewyk maak krane oop en verdwyn amper in die verte. Ons vang spoed oor die klippe, en na nog klippe en sand kom ons af. Ek is heel agter, en haal die groepie in waar hulle uitgespan het vir middagete onder 'n paar bossies. Daar is min plek, en geen teken van Lood nie. Ek sit toe maar my goedtjies neer en gaan af rivier toe. Toe sien ek iemand! Dis Lood. Hy waai vir my, en gou sien ek hy wys ons moet soontoe. Wat 'n wonderlike plek. 'n Klipbank wat onder water is, met 'n paar groot bome. Ons span nou lekker uit, met plek vir almal, en geniet die rivier terdeë. Ongelukkig stap die tyd aan, en ons het nog ver om te gaan. Ons pak weer op en begin stap. Teen diť tyd het dit duidelik geraak dat ons te stadig stap. Om in 5 dae klaar te maak, moet ons amper nog 50 km stap! Lodewyk begin ons moed inpraat. Dis warm, die klippe en die sagte sand put jou uit. Die rivier oorsteek raak so erg dat ons trek nie eers meer skoene uit nie. Dis todat ons gesien het hoe koek die sand om ons stewels en maak dit swaarder. Esme se rug begin moeilikheid gee, en Lourens wys waar sy eintlike talente lê en maseer die seer spiere. Maar dis snaaks. Net sodra jy dink jy het die bodem van jou energie bereik, dan ontdek jy dis 'n vals bodem. Jy mik vir elke draai (want daar is skadu dalk!). En as jy dit bereik, is dit 'n persoonlike oorwinning. Party stappers begin 'n traan of twee stort, maar moedige woorde help. Die son begin gevaarlik laag hang en ons begin kyk waar die voorlopers gaan stop. Toe steek die wind op. Dis erg, los sand waai orals in. Jou ore hare mond. Van die wat het, sit hul bandana? oor hulle neuse en mond. Net toe die donker wil slaan, ontdek ons 'n pragtige plekkie, en span sommer dadelik uit. Beskut teen die wind, met 'n hele paar stukke dryfhoud in die omgewing. Dis vandag ons oudste stapper se verjaardag. Ons sing vir hom, deel geskenke uit, en drink bietjie sjampanje. Almal se gemoed is weer gelig. Na ete sit ons tot laat en gesels en lag...en maak Sam se skoen weer reg.

9 Mei 2008


Ons word wakker met 'n wonderlike uitsig. Die rivier vloei spieëlglad voor ons, dis so stil en rustig. Almal begin stadig ontwaak. Amper automaties word koffie water gemaak. Die nuwe emmer wat Lourens gekry het vir sy verjaardag werk soos 'n droom, en laat mens wens hy kon vroër verjaar! Dis dag 3, my sak moet ligter wees, maar dit voel of hy van klip gemaak is. My rug is seer, my voet is seer en my gemoed is laag. Om die waarheid te sê, almal is pê. Toe die slegte waarheid. Ons is nog bitter ver van die einde. Ons moet omtrent 25 km vandag stap, en dan nog 25 more as ons in 5 dae wil klaarmaak. Maar dit maak nie saak nie, die omgewing is asemrowend. Met nuwe dapperheid val ons almal in die pad. Oor die laaste paar dae het die canyon se walle laer geword, die rivierloop meer oop, en die gruispad meer. Ons maak goeie tyd op die gruispaadtjies en dinge begin beter en beter lyk. Ons vind in een van die rivier kruising 'n voetslaanskoen. Dit lyk of hy al dekades daar lê...dis 'n Hi-tec! Dis amper middag, die son bak ons erg, maar ons moet die halfpad merk maak, net toe ons dink ons gaan nog kilometers ver moet loop sien ons dit. 'n Pragtige boom op die oewer van die rivier. Die son brand hard maar die boom is lekker dig. Jan-Harm begin om rympies op te sê, grappies te vertel...ons lag almal lekker. (sien kampvuur) Net toe die son begin dink aan water trek, is ons weer oppad. Ons almal sing om die beurt homer se Doh-Ray-Me (sien weer kampvuur stories). Die rivier se draaie begin eindloos raak. Maar dit raak makliker om koek te sny, die ander voordeel is dat die rivier kruisings vlakker raak, en dus makliker om oor te steek. My rivier oorsteek roetine is al amper vervolmaak, boots uit en om my nek (ek is al lankal gewoond aan die reuk), rockies aan tot in middel van die rivier, stop, maak bandana nat, sit om kop, maak waterbottel vol, vat sluk water. Aan die ander kant, rockies uit, bootse aan en weg is ons. Draai na draai raai die kilometers minder. Die GPS hou pas van elke tree, elke kilometer. Dit begin donker raak. In die canyon raak dit eensklaps donker, sodra dit soos agtermiddag begin lyk, moet jy gou kampplek soek. Die voorste stapper het krane oopgemaak na die oornag punt, net anderkant die kortpad. Die kortpad self is nie moeilik om te vind nie. Ons begin die heuwel uitklim, maar dit is duidelik dat ons in die donker gaan stap. Die heuwels is 'n welkome verandering van die gruispad en sand. Die oornag punt aan die ander kant maak dat ons ook 'n bietjie vinniger begin stap, 'n bietjie meer begin lag . Dalk het die koelte ook iets daarmee te doen? Ons haal flitse en koplampe uit en stap die laaste ent tot by die sandbank waar ons oornag. Iemand het 'n lampie opgesteek om ons die pad te wys...dit lyk piepklein. Dis die laaste aand, en Lourens maak weer 'n watertand lekker aandete met ons laaste kossies...wel, amper laaste kossies. Lood dra nog van die beginpunt af die roosterkoek, en elke aand stel ons dit uit...diť aand is dan ook nie anders nie. Net na nagereg sit ons almal en bepeins..ek maak ook die laaste van my coke oop vir 'n rum en coke. Dis dalk swaar, maar dit maak mens se aand!

10 Mei 2008


Dis donker toe my horlosie afgaan. Die sand is hard en ek probeer al heelnag 'n gat skrop vir my heupe.Die matrassie wat ons ingepak het was van geen hulp nie. Ek begin opstaan, sit die flits aan. Rondom my ontwaak mense. Vandag het ons 25 km om te stap. Dis die laaste dag. Al kos wat ek oor het is my ontbyt, en middagete. My sak is nou so lig as wat kan kom. Die twee vinnigste stappers, Lodewyk en Frannie, besluit om vooruit te loop, die bus terug te vat, en dan ons karre te bring Ai-Ais toe. Ons kom ooreen dat as ons dit nie maak nie, bly ons oor in die canyon vir nog 'n nag. Ons het mos nog die potbrood. Binne my in die geheim wens ek ons kan dit doen. Die lig is nog donker sodat mens net net kan sien , toe begin ons al stap. Ons vat die groot kortpad, bo oor die berg, waar die naamplaat ter ere van 'n stapper aangebring is. Dis lekker om bietjie vir 'n slag iets anders te stap as los sand en klippe. Die gemoedre is gelig. Almal is moeg, maar ons wens tog dat ons nog langer kan bly. Ons bereik die graf en neem 'n paar fotos. Die groenigheid is verbasend in die dorre woestyn. Ons kruis die rivier en hou sommer reguit aan bo oor die heuwels. Die landskap is plat genoeg dat mens amper in 'n reguit lyn kan loop...maar dis maar nogsteeds meestal sand en klippe. Ons sien die twee vinniges in die verte verdwyn net soos ons oor die heuwel kom. Hier is motorspore, dit lyk soos 'n lorrie. Ons bereik die ingang na quaggas natuur reservaat. Vroëer jare was hier 'n winkeltjie. Al wat nou oorbly is 'n leë huisie. Ons eet ontbyt, en kruis die rivier op die drif. Vandaar val ons weer in die pad. Dit voel eindloos, soos waneer mense weet jy is naby maar die bestemming kom nie aan nie. Die son bak vel neer, maar ons druk deur. Skielik sê Jan Harm "Die swart rotse daar lyk bekend, ons is amper daar!" Ons almal juig, dis wonderlike nuus. 'n Nuwe hoop vat by ons vlam. Ons moë bene voel nie meer so moeg nie, mens wil amper haas na die eindpunt toe. Maar swart rotse kom en gaan, maar nog geen Ai-Ais nie. Die een ding wat mense darem kan sê is solank jy die rivier volg of in die oog hou KAN jy nie Ai-Ais mis nie. Die son begin net water trek toe ons die eerste bietjie beskawing sien. 'n Krag boks wat 'n pomp dryf. Ons juig, diť keer met sekerheid, Die einde is naby. Instinktief volg ons die pyplyn. Die resies is nou aan, om by die kamp te kom voor dit te donker raak. Ek bly saam met Ansie agter terwyl die res stap.Die pyplyn voel lank...baaaaaaie lank. Amper so lank soos Sishen se steenkooltrein. Ons haal Ai-Ais toe die elektriese ligte in die kamp net begin aangaan. Dis stil...baie stil. Ek vind die res van die groep waar hulle by 'n halfgeboude opwas-kamer sit. Lourens deel my mee dat die bus klaar weg is, en dat ons vir die nag moet kamp en dan kom haal hulle ons more. Ek is so pê, ek stem saam....Toe skielik daag daar 'n Landrover op!!! Hulle het toe al die tyd my 'n streep getrek! Ons ry terug na Hobas in algehele stilte, net die Landrover se engin wat sing op die grondpad. Almal besig met hulle eie gedagtes. Ons daag op by Hobbas. Wat kan ek sê, die ontvangs was baie opgewonde. Die staff was bekommerd ons het verdwaal, maar toe hulle hoor ons is oppad en het dit veilig gemaak, was hulle baie opgewonde. 'n Kampvuur het ons ingewag, die kok was gereed, bier was koud. Lood vertel ons van hoe hulle amper in die heuwels verdwaal het, en 'n baie erge ompad geloop het. En toe hulle by Ai-Ais aankom het niemand geweet ons maak klaar nie (ondanks al my reëlings by die twee kantore!) Toe kry hulle 'n nagmerrie rit saam met 'n jaagduiwel in 'n Venture terug na Hobbas. Hulle was seker dat ons nog 'n aand in die Canyon gaan deurbring en het al begin regmaak om in te kruip...toe die oproep kom dat ons dit gemaak het. Die tente was opgeslaan, die stortwater was heerlik, en geen grond was hard genoeg gewees om NIE te slaap nie.

11 Mei 2008


Die volgende oggend pak ons almal op, tente klere en karre. Lourens voer die voëls met krummels en hy word gou toegepak. Ons vertrek na Canon Roadhouse waar ons ontbyt eet. My gesig nog baie seer van die week ou baard wat ek geskeer het. Daarna vat ons die pad na Grunau, waar ons brandstof ingooi, en vandaar na Ariamsvlei om oor die grens te gaan. Oor die grens en ons mik vir Upington. Middagete word genuttig, en vandaar na Kuruman waar ons in 'n gastehuis ingeboek is. Ons daag net na sononder in Kurman op. Na 'n bietjie van gespook met slaapplek, is ons almal ingesettle. Weereens is dit die dubbel bed met enkelbed kombinasie wat my stomslaan, en ook die DSTV in elke kamer... Ons maak 'n draai by die Spur waar ons almal om een tafel inpas. Na weke van stap is niemand te naby nie.

12 Mei 2008

Volgende oggend, vertrek ons huis toe, nadat ons eers die naaste Wimpie besoek het vir ontbyt. Mens kan al sien almal het hulle gunsteling kos. Ons sê totsiens aan Lood en die span maar bly nog saam met hulle vir 'n ent. Teen middagete haal ons Klerksdorp. 'n Laaste paar items word oorgelaai, drukkies uitgedeel, en ons neem afskeid van die Pretorianers, ons vertrek terug Meyerton toe. Net voor sononder haal ons dit.

Ter Afsluiting


Hierdie is beslis 'n MOET roete vir alle kranige stappers. Moet nie onder 'n wanindruk wees nie, dis moeilik. Die hitte, dis sand die klippe, alles werk teen jou. Maar wat jy kry is asemromwende uitsigte oor van die moeiste dele in Suider-Afrika. Niks wen 'n sonsondergang hier nie!
Met my voorbereiding het ek rerig min praktiese ingliting gekry oor die vis. So hier gaan ons.
  1. Moenie in een dag probeer deury, en dan die volgende dag probeer stap nie. Dis uitputtend, ver en warm. Probeer eerder 'n vakansie daarvan maak en bly oor op 'n oord oppad soontoe en terug
  2. Dit word nie gese by die ingang nie, maar jy kan al die laat middag voor jy begin stap, al afsak in die canyon en oornag by die rivier. Dit spaar baie tyd die volgende oggend
  3. Vir die eerste 2-3 dae hou sover moontlik links van die rivier (oos vir die kaartlesers) die ander kant is meestal vol klipbank wat plek plek amper onbegaanbaar is
  4. Die swawelbron ruik nie naastenby so sleg so mense se nie, oorweeg om die tweede aand daar oor te slaap
  5. Hou die kilos dop! Maak seker jy stel doelwitte vir hoe ver jy moet stap en probeer dit haal. Dit gese, oorweeg dit om 'n ekstra dag te stap. Dis baie mooi in die canyon, en mens wil nie die laaste paar dae gejaag voel om klaar te maak nie
  6. Los maar gerus die tent en die oprol matras by die huis. Kanse vir reen is skaars (ek bedoel rerig! dis 'n woestyn FFS) en die matras doen NIKS om die grond sagter te maak of jou te beskerm teen die koue nie. bring eerder 'n dun sterk grondseil en 'n kussing. Nou praat jy!
  7. Maak jou oë toe en betaal die prys vir die rit van Ai-Ais, jy gaan te moeg wees om die paai daar op en af te ry
  8. Bring jou kamera, jy gaan andersins baie spyt weet
  9. en laaste, maar nie die minste nie. Bring goeie vriende en GENIET DIT YEAH!

Gerrie sê ...


Dis baie reel werk, maar aan die einde van die dag, gaan jy die grootste smile!

Oorspronklike besprekings inligiting Fotos